|
KURSUSSE
Leerders mag slegs
een van die twee kunsvakke, ONTWERP of VISUELE KUNS, as deel
van hul vakkeuse neem.
Graad 10 - 12
In graad 10 word die basiese konsepte, tegnieke en vaardighede
in 'n spesifieke dissipline aan leerders gebied. In graad
11 word van leerders verwag om hierdie basiese konsepte en
vaardighede te begin interpreteer. In graad 12 word die leerders
meer vryheid gegee om hul formele projekte te individualiseer
en daar word van hulle verwag om die konsepte, tegnieke en
vaardighede individueel te interpreteer en toe te pas.
VISUELE KUNS
Visuele Kuns dek 'n breë veld van kreatiewe praktyke wat die
hand, oog, intellek en verbeelding betrek binne die konseptualisering
en skepping van twee-dimensionele en drie-dimensionele kunswerke,
voorwerpe en omgewings wat verteenwoordigend is van die estetiese,
konseptuele en ekspressiewe belange van individue of groepe.
Leerders bekom die bevoegdheid om praktiese en estetiese besluite
te maak binne die ontwikkeling van 'n samehangende groep werke.
Die vak Visuele Kuns behels selfuitdrukking en bied aan leerders
'n manier om betekenisvol om te gaan met en te reageer op
hulle wêreld. Dit verskaf geleenthede om leerders te stimuleer
en te ontwikkel. Leerders se kreatiewe verbeelding word deur
visuele en tasbare ervarings asook die vernuwende eksperimentele
gebruik van materiale en tegnologie ontwikkel tydens die realisering
van hulle idees. Die vak moedig ook die leerders aan om elkeen
hul eie visuele taal en geletterdheid te ontwikkel deur ingelig
en beïnvloed te word deur die studie van geskiedkundige en
kontemporêre Visuele Kultuur.
Leerders kan een van die volgende
Visuele Kuns dissiplines kies om in te spesialiseer tydens
grade 10 - 12: Beeldhou, Drukkuns, Fotografie, Skilder of
Teken.
ONTWERP
Ontwerp is 'n kreatiewe probleemoplossingsproses waarbinne
die studie van beide ontwerppraktyk en ontwerpteorie ingesluit
word. Kenmerkend lei die ontwerpproses tot nuwe omgewings,
sisteme, dienste en produkte wat uniek kan wees of gerig kan
word op massaproduksie. Dit kan handgemaak of met behulp van
meganiese of elektroniese metodes geskep word. Ontwerp voeg
waarde tot die lewe deur die skep van produkte wat 'n doel
het, wat funksioneel is en wat estetiese waarde het.
Ontwerpprodukte kan sosiale, kulturele en fisiese omgewings
vorm tot voordeel van die nasie. 'n Belangriker aspek is dat
Ontwerp leerders toerus met kritieke lewensvaardighede soos
visuele geletterdheid, kritiese denke en leierskap. Dit moedig
ook leerders aan om vindingryk en entrepreneursvernuf uit
te oefen, om strategies te dink en om binne 'n groep te funksioneer.
Leerders kan een van die volgende
Ontwerp dissiplines kies om in te spesialiseer tydens Grade10
- 12: Keramiekontwerp, Illustrasie-ontwerp of Tekstielontwerp.
|